Jump to content

City College of New York-studente kry praktiese ondervinding met die wolk

Eerder as om beperkte hulpbronne toe te wys aan die bou van nuwe infrastruktuur, het City College of New York Google Wolkplatform gebruik om oopbrontegnologie, soos virtualisering en houers, te onderrig. Nou kry hul studente waardevolle, praktiese opleiding voordat hulle die rekenaarwetenskapveld betree.

Rekenaarwetenskap (RW) -departemente moet onderrig en opleiding aanbied in die jongste tegnologie wat in die werkplek gebruik word, en vandag beteken dit die wolk en verwante tegnologieë soos virtualisering. Die meeste universiteite het egter nie die hulpbronne om nuwe infrastruktuur op te rig om hierdie tegnologieë te steun nie. En die pas van verandering is so vinnig dat dit bykans onmoontlik is om by te hou met die jongste platforms, nutsgoed en tale.

Personeel by die City College of New York (CCNY) wou studente voorsien van praktiese ondervinding in virtualisering, houers en ander wolktegnologieë wat nie voldoende gedek was in hul huidige handboeke en ander studiemateriaal nie. CCNY het 'n nuwe strategie benodig waarmee hulle kon tred hou met die jongste ontwikkelinge in rekenaarwerk, op 'n manier wat bekostigbaar en prakties was.

"Baie RW-programme is geneig om teoreties en tradisioneel te wees in hul benadering tot kerndatastrukture, algoritmes en bedryfstelsels," sê Peter Barnett, adjunkmedeprofessor in rekenaarwetenskap by CCNY. "Dit is belangrik dat studente hul gedagtes 'na buite rig'. Ons moet 'n visioenêre opvoeding aanbied sodat studente afgeronde rekenaarwetenskaplikes kan wees."

Omvattende RW-onderrig word gebou met behulp van Google Wolkplatform

Barnett is na Google Wolkplatform Skenkings vir Onderwys verwys deur Lindsay Siegel, uitvoerende direkteur van Zahn Innovation Center, 'n ontwikkelingorganisasie by CCNY wat 'n beginnerskamp, mentorskap, pro bono-dienste en vinnige modelboufasiliteite insluit.

Met die eerste bekendstelling van Google Wolkplatform aan sy klas, het Barnett vir sy studente 'n oefening gegee waarin hulle moes dink oor hoe wolkplatforms funksies van tradisionele bedryfstelsels en programbedieners implementeer. Hulle moes dink oor die vraag "Waar is jy?" – 'n houer of 'n virtuele masjien? Hoe weet jy of jy op 'n spesifieke bediener of 'n kluster van verspreide masjiene is?

Studente kon kies of hulle met Google Wolkplatform of 'n ander wolktegnologieverskaffer wou werk. Van die vele studente wat Google Wolkplatform gekies het, het Barnett gesê dat hulle die tutoriale intuïtief gevind het, wat dit maklik gemaak het om te begin met die invoer van data en die bou van programme. Hulle het steun van die Google Wolkplatform-span en van CCNY se eie personeel gekry as hulle probleme teëgekom het om hul projekte aan die gang te kry.

Sommige studente het met Google App Engine gewerk en ondersoek hoe houers werk, terwyl ander een van die tutoriale gekies het oor die bou van 'n program in Google Compute Engine. Al die studente het uitgepluis hoe om hul virtuele masjien- (VM-) of houeromgewings te ontdek met Linux-opdragte, en het databasisagtergrondprogramme met SQL-opdragte verken.

Studente moet aangemoedig word om soos ingenieurs te dink

Deur ten volle betrokke te raak by die wolkplatform is studente aangemoedig om konseptueel oor die wolk te dink en om te verstaan dat, selfs op die wolk, hulle nog steeds werklike hardeware gebruik. Hulle het artikels gelees, tutoriale gekyk en geëksperimenteer met wat hulle kon doen binne en buite houers. Hulle het kennis geneem van geheue- en CPU-gebruik en geleer hoe virtuele berging verskaf word en hoe hulle IP-adresse verkry word.

Drie studente – Nissan, James en Michael – het verder gegaan as die minimum vereiste om 'n modelprogram te skep. "Hulle het hul eie bewaarplekke ingevoer en hul eie programme gebou. Dit het goed gewerk en hulle het 'n goeie idee gekry van hoe Google as werkomgewing opereer," sê Barnett.

Verstaan ​​waarom en hoe

As studente aangemoedig word om hul eie vrae te stel, vind hulle veel meer uit oor 'n onderwerp. Tydens sommige van die oefeninge het studente opgemerk hoe lank dit vir 'n program neem om te reageer op grond van sy ligging – die VK of die VS. Dit het vereis dat hulle verder moes dink oor waar die fisiese rekenaarwerkbronne geleë was. Een student het Google Wolkplatform se MySQL-databasis in sy wolkprojek geïmplementeer en dit verken om te verstaan waar die stelsellêers geberg word.

Barnett het sy klas aangemoedig om te leer oor die wolktegnologie wat vir hulle die interessantste was. Van die studente het ondersoek hoe om Kubernetes te gebruik om houers te bestuur, terwyl ander met ladingbalansering in MongoDB geëksperimenteer het. Studente het daarna ervarings met mekaar gedeel om 'n begrip te kry van omgewings oor 'n breër spektrum.

"Studente gaan nie op harde metaalbedieners werk nie. Die wolk is nie net die toekoms nie, dit is die hede."

Peter Barnett, Adjunkmedeprofessor in rekenaarwetenskap, City College of New York

Meer as net 'n model

Studente in Professor Barnett se finalejaarprojekkursus by CCNY gebruik tans Google Wolkplatform om die agtergrondprogramdeling van belangrike sagtewareprojekte, met beduidende wetenskaplike, sosiale en entrepreneurspotensiaal, te implementeer.

Die vyf spanne se projekte het die volgende ingesluit: die gebruik van masjienleer om optiese karakterherkenning van handskrif te bevorder; hulp aan afrigters, fisioterapeute en hulle kliënte in die ontwikkeling en handhawing van korrekte liggaamshouding tydens oefening; verbetering van patentnavorsing met gebruik van inhoudanalise gekombineer met masjienleer; kartering van die binnekant van moltreinstasies en ander publieke plekke om siggestremde mense te help om in dié areas te navigeer; en generering van kwasi-lukrake musiek met AI, wat verander in reaksie op gebruikerterugvoer.

Die meeste van hierdie projekte gebruik AI in die vorm van inhoudanalise en masjienleer en Google Wolkplatform bied 'n robuuste stel API's, soos ML-Engine en BigQuery, om hulle te ondersteun. Die Google for Education-span het rojale skenkings in tyd op Google Wolkplatform gebied aan elk van Barnett se spanne om hul ontwikkeling en toetsing te fasiliteer, wat op die oomblik aan die gang is.

Onderrig deur ervaring in die werklike wêreld

Om suksesvolle rekenaarwetenskaplikes te wees, moet studente die teorie sowel as die praktiese toepassings van nutsgoed in vandag se werkplek leer ken. Wolkdienste soos Google Wolkplatform gee aan CCNY toegang tot die jongste en beste ontwikkelaarnutsgoed en grootskaalwolkinfrastruktuur, sonder enige onmiddellike groot belegging in infrastruktuur. Studente kan leer hoe om met verskeie tale en wolkplatforms te werk, insluitend Python, Ruby, Sinatra en Google Wolkplatform. Hierdie nutsgoed en tale is buite die bereik van baie onderriginstelllings wie se beperkte bronne hul verhoed om so 'n verskeidenheid tegnologieë beskikbaar te stel vir verkenning. Google Wolkplatform bied 'n bekostigbare manier vir toegang tot moderne rekenaaromgewings op 'n manier wat by alle studente en departemente se behoeftes kan aanpas.

"Die wolkomgewing is die moderne manifestasie van die bedryfstelsel," sê Barnett. "Studente gaan nie op harde metaalbedieners werk nie. Die wolk is nie net die toekoms nie, dit is die hede."

Sluit hier aan vir opdaterings, insigte, hulpbronne en meer.